Skip to main content

As jy dit glo dan bestaan dit

Ek gaan vir jou vandag ‘n storie vertel wat begin meet karre en eindig met ‘n les oor die interseksie van geloof en besigheid. Die storie is lank, maar hy is vir jou pa baie kosbaar want hy vorm ‘n gedeelte van die grondslag vir die lens waardeur ek die wêreld sien.

Daar was eens op ‘n tyd ‘n man met die naam Gottlieb Wilhelm Daimler. Hy was ‘n eksentrieke duitse ingenieur wat brandstof-enjins aanmekaar getower het. Jy weet mos daai tipes wat jou pa so baie van hou om te jaag en wat jy tien teen een nie self gaan bestuur eendag nie seuna. Nie omdat jy nie sou kon nie, terloops! Meer omdat jou pa vas glo karre gaan hulself binnekort self rond karwy. Gotlieb het vir baie lank self karre gemaak, jy kon een by hom direk koop LANK voordat hy ‘n maatskappy gehad het. Hy het egter op ‘n stadium die “Daimler Motor Corporation” begin. Emil Jellinek, een van sy handlangers, het in die jaar 1900 (toe ons voorouers besig was om die Ingelse pakslae te gee in die boere oorlog hier op volks-front) ‘n parmantige karretjie met 35 perdekrag ontwikkel vir hulle maatskappy ontwikkel, en dit Mercedes genoem.

Gottlieb se groot kompetisie was Karl Benz. Die man het roem verwerf in 1885 toe hy ‘n kar gebou het wat sy vroutjie namens hom 66 myl ver gery het om te bewys hoe goed die wa kan doen. En mense dink die skoner geslag kon nie avonture hê in vroeër jare nie nê? Hulle moes net die regte mans getrou het seuna – ‘n les vir ‘n ander dag! Maar dit opsygesit, die twee maatskappye het op ‘n stadium saamgesmelt en in 1926 die maatskappy Mercedez-Benz gevorm wat ons vandag ken. Ou Gottlieb en Karl sou vandag waarskynlik nie kon glo hoe alombekend Mercedez-Benz is nie, vra maar enigiemand ouer as 13 of hulle die naam ken en hulle sal vir jou ‘n stories vertel van huimweë of misnoeë oor daai handelsnaam met sy 3-puntige ster.

My vraag aan jou, seuna, is of Mercedez-Benz dan bestaan? Jy gaan mos natuurlik sê ja – pa het my dan nounet vertel hoe hy ontstaan het!

Volgende vraag: Wat is Mercedez-Benz? Is dit die karre? Mens kan so sê, maar ook net tot ‘n mate. Hulle sal by voortbestaan selfs al vat ons AL die karre weg, want hulle kan mos net nuwes bou. So ook het die maatskappy bestaan in die vroeë 1900’s met karre wat vandag nie meer hier is nie. So as dit nie die karre is nie, is dit dalk die geld of geboue? Dit kan ook nie regtig dit wees nie want as ons al hulle geboue en geld wegvat sal banke steeds vir hulle weer nuwe geld leen en hulle kan nuwe geboue koop – hulle verander buitendien gereeld kantore. Is dit dan die mense? Dit kan wees, maar die mense wat vir hulle werk vandag gaan oor 100 jaar nie meer hier weees nie en tog sal die maatskappy steeds bestaan. So is dit dan die maatskappy? Dit kan weees, maar kom ons sê ons de-registreer die maatskappy en die mense hou aan om die karre te maak met dieselfde naam, dan bestaan Mercedez-Benz tog steeds?

Kan jy dan vir my sê wat presies Mercedez-Benz is, as dit dan nou nie die karre, mense, geld, geboue of maatskappy is nie?

Ek wil hê jy moet oor hierdie dink voor jy verder lees….

.

..

….

…..

……

Het nuuskierigheid jou oorval of het jy ‘n teorie? Ek hoop jy het ‘n teorie seuna, al is hy verkeerd! Jy moet ‘n opinie hê oor elke onderwerp onder son, maar, jy moet ook daardie opinie lig vashou sodat jy hom keer op keer kan verander soos jy meer leer…

Jy wil natuurlik weet wat dink EK nê? Ek sal jou sê, ek belowe, maar eers nog ‘n vraag gevolg deur ‘n staaltjie! As ek jou vandag in ‘n hok met ‘n Gorilla sit en die deur toesluit – wie sal die fight wen? Haha, ek hoor al hoe jy my vertel hoe jy vir King Kong op sy gat neursit seuna – maar daai is net jou Afrikaner-hart wat met jou smokkel. Die waarheid is dat ons fisiek nie opgewasse teen ‘n Gorilla is nie. Ons brein gebruik 25% van ons kos se energie, teenoor 8% in sy geval. Gevolglik het ons minder kos vir ons spiere relatief tot Gorillas en dus is hulle sterker en groter. Ek wil egter op daai vraag bou – as ek jou saam met 100 ander mense in ‘n woud sit, teenoor 100 Gorillas – wie sal dan wen? Daardie antwoord blyk minder duidelik te wees… En daar is ‘n baie goeie rede vir daai dilemma. Dit kom neer op kommunikasie en verbeelding. Jy sien, Gorillas kan baie basies met mekaar kommunikeer en dit is hoofsaaklik reaktief. Hulle kan skree – Leeu! en dan kyk almal grond toe of Slang! en dan kyk almal bome toe. Hulle kan egter nie vir mekaar sê “Goeie more Jannie. Lekker geslaap? Jis man, ek was vanoggend by die watergat en daar was ‘n leeu se spore daar so moenie daar gaan water haal vandag nie”. Hierdie vorm van kommunikasie is beide pro-aktief en versoek van Jannie om ‘n verbeelding te hê. Jannie moet kan “imagine” waar die watergat is en in sy geestes-oog die leeu daar sien rondloop.

Dit is as gevolg van hierdie komplekse manier van kommunikeer, gekombineer met die vermoë van ons breins om te kan verbeel, dat ons vir mekaar stories kan vertel van leeus by watergate en so ook om ‘n kampvuur kan sit en stories vertel van die dag se jag terwyl almal dit in hulle eie unieke verbeelding waar maak. Ons kan ook natuurlik vir mekaar vertel dat ons redelik seker is die leeu sal môre ook weer by die watergat wees, nes vandag en ook gister. Ons verbeeldings kan terug gaan in tyd en ook vorentoe voorspel in tyd – nes jou verbeelding vir ou Gottlieb in die 1800’s kan sien en so ook kan indink hoe Mercedez-Benz nog oor 100 jaar sal bestaan. Nes ek vanoggend in my bed sit en tik en ook hoop dat jy eendag gaan bestaan…

Daarin lê die antwoord vir my vraag seuna!

Mercedez-Benz bestaan omdat ek en jy en almal anders GLO dat hy bestaan. Hy bestaan nie eintlik regtig nie, maar ons maak hom werklik. Glo jy my? Jy kan maar…

Soos die geval is met Mercedez-Benz só ook is die geval met idees, ideologieë en ja ook maatskappye. As jy ‘n idee het, vir hom ‘n naam gee, hom iewers (ek se iewers want dis eintlik maar irrelevant waar) “registreer” om hom “offisieël” te maak, vir hom ‘n mooi logo gee en vir ander van hom vertel, dan bestaan hy.

Die dag wat jy daardie geheim bemeester en verstaan gaan baie deure vir jou oop gaan.

Kom ek leer vir jou ‘n eenvoudige maar praktiese manier om daai geheim te gebruik seuna. Wil jy nader beweeg aan ‘n vriend of twee? Gee julle vriendskap ‘n naam! Iets soos “Die masjiene”. Stig ‘n Facebook (magtig nou gee ek vir jou my ouderdom weg) of ‘n Whatsapp groep met julle avonture en as jy wil, maak vir julle t-hemde met julle groep se naam op. Sit dan terug en kyk wat met die band tussen julle gebeur…

Jy het met hierdie eenvoudige oefening nounet vir julle ‘n identiteit gegee, jy het julle bestaan verklaar en “offisieël” gemaak en jy glo nie alleen in die bestaan van “die masjiene” nie. Julle is nou ‘n THING!

Die prinsiep is eintlik heel eenvoudig, maar die toepassing dra meer krag as wat meeste mense ooit kan besef.

As mense gesamentlik in iets glo dan bestaan dit

Daardie stelling mag dalk nog vrae by jou ontlok seuna! Dis okay, solank jy my net belowe dat jy altyd jou vrae na my toe sal bring sodat ons saam oor hulle kan dink.