
Ek het op ‘n dag ‘n baie interessante besigheid bestuur my seun, die besigheid se naam was Pocketslip. Die produk was ongelooflik – ons het ‘n program geskryf wat jou toelaat om papier strokies wat winkels uitdeel wanneer jy goed by hulle koop vervang met ‘n elektroniese weergawe wat jy kan lees en stoor op jou foon en die internet. (NS: Ek hoop opreg jy het geen idee waarvan ek praat as jy die eendag lees nie – mag iemand anders hopelik hierdie probleem opgelos het vir jou en jou nageslag).
Ek was bevoorreg genoeg om as ‘n jong man my idee voor te lê aan ‘n ander jong man. Die ander jong man was die seun van ‘n baie wel-bekende eienaar van die grootste kettingwinkel in Suid Afrika, Shoprite Checkers. Kom ons noem hom “Corné Masson”. Die voorlegging was uitstekend, die waardeproposie duidelik en Corné het in al sy wysheid saamgestem dat ons produk die maatskappy ‘n hele paar rand sou spaar, goed aanmekaar gesit is en ook gewild sou wees onder die besigheid se kliënte.
Daar was net een probleem…
Ek het die vergadering afgesluit deur ‘n pamflet in Corné se hand te stop my seun. Die pamflet het lang nagte se statistiek bevat en is heel logies en kronologies uiteengesit deur jou pa in Microsoft Word. Corné het die pamflet in sy hande geneem, die netjies-gebinde produk deeglik beloer, die glimlaggende jong man oorkant die tafel van hom beloer, en vir my ‘n baie belangrike vraag gevra. Luister mooi my seun, want in sy vraag lê ‘n belangrike les.
“Ek kan sien hierdie dokument is nie deur ‘n designer gemaak nie. Hoe groot is julle maatskappy? Het julle genoeg geld geraise? In my ervaring hardloop maatskappye soos hierdie vroeg-vroeg uit geld uit. Besigheid vat tyd jy weet. EK weet want ek is ‘n ervare belegger…”
Jy sien my seun, my dokument was FEITLIK KORREK maar hy was LELIK. Hoe jou dokumente in besigheid lyk en hoe hierdie dokumente in besigheid die leser laat voel is belangrik my seun. Mense soos Corné verwag mooi dokumente, dit spreek vir hulle boekdele van die besigheid agter die bemarking. Jy sien my seun, Corné se aanname was verkeerd want die besigheid het genoeg geld gemaak (Dis ‘n storie vir ‘n ander les) deur twee goeie ooreenkomste wat jou pa met ‘n bank en ‘n ander winkelgroep gesluit het… Maar dit verander niks, want vir Corné was die dokument lelik en ‘n lelike dokument het vir hom gesê jou pa se besigheid is jonk en riskant.
Van daardie dag af vorentoe het ek nog nooit een van my eie dokumente mooi gemaak wat ekstern gesien sou word nie en ek glo dit het my tot vandag toe baie goed gedoen.
Hierin lê die les my seun. Dit gaan nie altyd oor WAT jy sê nie, maar meer oor HOE jy dit sê…
‘n Lelike dokument is soos ‘n mooi nooi met ‘n skril stem, hy skep twyfel….