Skip to main content

JY KIES SELF HOE LANK JY STINK

Almal trap iewers in stront.


Soms van honde, beeste, perde, as jy gelukkig is bok - maar trap GAAN jy in hom trap.


Wat dan nou gedoen? Daars net een uitweg - was jou skoene so gou as moontlik. Jy sien, seuna, jy kan swets soos jy wil en skree tot jou gesig blou is - dit verander niks. As die stront aan jou voet klou kan net JY SELF kies wanneer jy van die reuk verlos word. JA, soms pla dit mense om jou so baie dat hulle dit vir jou af gaan was, maar dit is skaars. Dis meestal jou eie probleem. 


Meeste mense is hardkoppig, wanneer hulle in stront trap blameer hulle iets of iemand anders en hulle weier net bloot om dit self af te was. Sulke mense loop rond soos slagoffers en hoop dat bystanders hulle jammer kry. Jy ruik dit aan hulle, sonder dat jy dit hoef te sien. Net so ook gaan die lewe stront oor jou pad bring seuna.


Dis onvermydelik, jy gaan iewers in dit trap - niemand is perfek nie. 


Die geheim is om so gou as moontlik vrede te maak en dit af te was. As jy dit nie doen nie dan ruik jy en almal rondom jou dit aan jou lyf. Mens ruik soms ander mense se stront wat hulle nog moet afwas. Jy weet nie noodwendig wat dit is en hoe dit daar gekom het nie, maar party mense gee daai reuk af.


Jou neus kan nie "bitter" ruik nie, maar wanneer dit by mense kom dan kan mens jy daai bitterheid ruik sauna, jy voel dit aan in die mens. Hoe vinniger jy dit van jouself af was en aanbeweeg hoe vryer gaan jy deur die lewe gaan en hoe lekkerder gaan jy ook vir almal om jou ruik.