
Salomo was ‘n yster my dolla. Hy was so wys soos ‘n boom vol uile (nie regtig nie – uile is bewys om redelik onnosel te wess maar ek hou van die sê-ding) afgesien van al sy foute. Ek is mal oor sy boek Spreuke in die bybel. Dit moet ALTYD jou eerste keuse wees vir wysheid my dogter. Die boek het 31 hoofstukke en dis asof God dit so bepaal het – jy kan dus een elke oggend van die maand lees wanneer jy wil bybelstudie doen maar nie lekker weet waar om te begin nie. Ek is ook ‘n aanhanger van Meditations of Marcus Aurelius en The art of war – twee boeke wat jy met liefde moet aanskaf dolla (onthou net altyd wanneer jy menslike wysheid lees – ook die dinge wat jou pa vir jou skryf – dat jy dit mooi moet deurdink, en die lesse wat nie ooreenstem met God se woord nie moet waarneem maar vergeet).
In Spreuke 26:17 lê GROOT wysheid my dogter en die britte se vertaling beskryf hom mooi: Like one who grabs a stray dog by the ears is someone who rushes into a quarrel not their own.
Jy sien, wanneer twee ander mense met mekaar baklei is dit nie jou PLIG om die probleem te probeer oplos nie dolla. As jy jou pa se gene het gaan jou outomatiese reaksie altyd wees om probleme op te los, maar, soms is ‘n probleem nie JOU probleem nie. Jy moet jouself altyd die vraag afvra: Wat is die GOED wat vir MY uit my aksie kan voortspruit, en wat is die SLEG? Een van jou pa se beste vriende oom Henco Wiid praat altyd van “risk-reward”.
Die les is eenvoudig my dolla: Jy moet ten alle tye vermy om ANDER se probleme JOU probleme te maak. Die lewe self het genoeg probleme. Partykeer (dit behoort die meerderheid van tye te wees) is dit beter om eerder ‘n skouer te wees vir ‘n ander mens as wat jy die taak op jou EIE skouers neem om op te los.