
Seuna, daar is ‘n rede hoekom ek hierdie vandag vir jou kan tik. Ek bestaan omdat my én jou voorouers lank genoeg oorleef het, en aantreklik genoeg was vir die teenoorgestelde geslag om klein Francois’tjies te kon maak. Ek wonder gereeld presies wie al hierdie mense was en hopelik teen die tyd dat jy hierdie lees het ek al ver gevorder met ons stamboom – ‘n projek wat ek aktief mee besig is, maar dis nie die punt vir vandag nie.
Instink en risikobestuur is wat oorlewing tot gevolg bring. As jy die dag saam my jag sal jy baie vinnig agter kom presies hoe bang ‘n bok is vir gevaar. Jis seuna, dis amper ‘n wonderwerk om ‘n bok te kan bekruip sonder dat hy jou hoor… En dit is as gevolg van duisende jare se skrikkerigheid vir gevaar. So ook het jy ‘n ingeboude meganisme wat gevaar uitwys. Jou pa hardloop sy bene stokkies as hy ‘n slang sien. Ek is nog nooit gepik nie maar ek het ‘n stemmetjie wat hard en skielik skree die oomblik as Satan se troeteldier in my omgewing is. Ek hoef nie gepik te word om te WEET hy beteken moeilikheid nie.
So ook is dit in besigheid en die lewe…
Wanneer jy iemand nuut ontmoet gaan jy elke dan-en-wan ‘n stemmetjie diep binne hoor wat vir jou sê dat iets aan die persoon nie lekker is nie. Jy gaan nie noodwendig kan plaas presies wat dit is wat jou afsit nie, maar as jy eerlik is met jouself sal jy weet.
VERTROU DAAI STEM MY SEUN…
Jy hoef nie altyd ‘n konkrete rede te he om te ontleed hoe jy voel nie. Onthou, ek weet ‘n slang moet vrek nog voor hy my pik. So ook het al ons voorvaders se onderonsies met mense ook in JOU DNA vir jou ‘n geskenk gelos wat jou sal waarsku in jou onder bewussyn wanneer iemand iets wegsteek. Dis beter om dan jou risiko te bestuur en OF veilig voort te gaan OF nie voor te gaan met so verhouding, vriendskap of vennootskap nie. Luister vir daai stemmetjie…